Jacobus Johannes du Plessis
Privacy Level: Open (White)

Jacobus Johannes du Plessis (1945 - 1984)

Jacobus Johannes "Koos Doep" du Plessis
Born in Rustenburg, Transvaal Colonymap
Son of [father unknown] and [mother unknown]
[sibling(s) unknown]
[spouse(s) unknown]
[children unknown]
Died at age 38 [location unknown]
Problems/Questions Profile manager: Susanna Hendrina Elisa de Bruyn private message [send private message]
Profile last modified
This page has been accessed 23 times.

Biography

South African Flag
Jacobus Johannes du Plessis is genealogies verbind aan Suid Afrika /is genealogically connected to South Africa

Op 15 Januarie 2024 was dit veertig jaar sedert die Suid-Afrikaanse musiekbedryf seker die grootste baanbreker en beste liedjieskrywer in die geskiedenis van Afrikaanse musiek, Koos du Plessis, verloor het.

Jacobus Johannes du Plessis is op 10 Mei 1945 in die Rustenburg-distrik gebore, maar het in Springs grootgeword. Hy het aan die Hoër Seunskool Hugenote gematrikuleer, en toe hy in standerd 8 (vandag graad 10) sanglesse wou neem, is hy afgeraai om dit te doen. Volgens sy musiekonderwyseres het hy ’n “gebrek aan vaardigheid” gehad.

Na matriek het hy ’n onderwysdiploma aan die destydse Normaalkollege Pretoria verwerf, waarna hy in 1967 tot die joernalistiek, ’n loopbaan wat hy vir die res van sy lewe gevolg het, toegetree het. Hy het eers by Die Vaderland in Johannesburg gewerk en nadat hy aanvanklik by sy ouers op Springs gewoon het, het hy later na sy eie woonstel in Joubertpark verhuis. In 1964 het hy sy toekomstige vrou, Mornay, op universiteit ontmoet; sy was die dogter van pastoor Justus du Plessis van die Apostoliese Geloofsending, en hulle is op 22 Junie 1969 getroud. Drie dogters, Irma, Karla en Karien, is uit die huwelik gebore. Nadat hulle na Europa vertrek het vir hul wittebrood, het hulle na Amanzimtoti in KwaZulu-Natal verhuis, waar Koos by Die Nataller gewerk het. Hy was aanvanklik nuusredakteur en hoofsubredakteur maar is later tot adjunkredakteur bevorder. In hierdie tyd het Mornay skoolgehou. Aan die einde van 1971 het hulle na Europa vertrek vir ’n uitgebreide reis, maar nadat Koos siek geword het, het hulle teruggekeer na Suid-Afrika. In 1972 het hulle na Randburg verhuis toe Koos weer by Die Vaderland gewerk het. In hierdie tyd het hy ingeskryf om deeltyds aan die Universiteit van die Witwatersrand te studeer en hy het eindelik sy BA (Honneurs)-graad in Afrikaans en Nederlands verwerf.

Teen die einde van 1972 is hy by Oggendblad in Pretoria aangestel. Hy het ’n dekade lank as subredakteur, hoofsubredakteur en nuusredakteur gewerk en nadat sy oudste dogter, Irma, gebore is, het hy ’n huis in Wierdapark in Centurion, waar hy vir die res van sy lewe gewoon het, laat bou.

Hy het reeds in sy studentejare aan die Normaalkollege Pretoria begin om liedjies te skryf, onder meer Kinders van die wind, wat hy reeds in 1968 geskryf het. Hy het reeds as jong seun ’n groot aanleg vir musiek getoon en sy ouma se traporreltjie, wat later ’n ereplek in sy eie huis gekry het, van kleins af bespeel. Hy het as student die kitaar ontdek en die drukke met behulp van ’n vriend bemeester. Dit het gou sy gunstelinginstrument geword. In 1975 het Karl Theunissen, ’n vriend van Koos, ’n kassetopname van sy musiek na Nick Taylor geneem. Taylor, wat veral bekendheid vir sy treffer “Stille rivierstroom” verwerf het, het ’n tuisateljee gehad en die onafhanklike platemaatskappy Incline House bestuur. Twee jaar later het Koos drie van sy liedjies in die televisieprogram Perspektief, met Theunissen as regisseur, gesing.

Stephan Bouwer het Du Plessis se musiek in sy televisieprogram Fyn net van die woord gebruik. Dit was ’n reeks programme met voorlesings van gedigte deur jong en gevestigde digters met musiek deur onder meer Nick Taylor en die destyds onbekende Laurika Rauch. In daardie tyd het Katinka Heyns aan haar televisiereeks Phoenix en Kie, waarin Jana Cilliers die rol van ’n nagklubsangeres vertolk het, gewerk. Die probleem was dat Jana nie ’n sangeres is nie, en daar is gesoek na iemand wie se sangstem vir haar karakter oorgeklank kon word. Jana het haar vriendin, Laurika Rauch, voorgestel. Dit was ’n besluit wat Koos en Laurika se musiek onder die aandag van die breë publiek gebring het. Vier van Koos se komposisies is vir die reeks opgeneem, naamlik “Die somer is verby”, “Skielik is jy vry”, “Sprokie vir ’n stadskind” en die liedjie wat die Suid-Afrikaanse publiek gaande gehad het, “Kinders van die wind”. Op 14 September 1979 het Laurika se opname van “Kinders van die wind” in die sewentiende plek tot Springbok Radio se Top 20 gevorder en binne vyf weke die derde plek gehaal. Dit het uiteindelik dertien weke lank op die treffersparade gebly. In dieselfde tyd het Merwede van der Merwe die programreeks Musiek en Liriek, met oorspronklike Afrikaanse komposisies deur Koos, asook onder meer Anton Goosen en Clarabelle van Niekerk, saamgestel. Die vier kunstenaars wat in die programreeks opgetree het, was Sias Reinecke, Laurika Rauch, Mynie Grove en Des Lindberg. Des het drie van Koos se komposisies, naamlik "Kinders van die wind" [1], “Op die pad na Nooitgedacht” en “As jy my kon volg”, in dié programreeks gesing.

Koos het homself ook daarna as sanger gevestig en sy eerste langspeelplaat, Skadu’s teen die muur, is in 1980 uitgereik. Benewens sy reeds bekende komposisies soos “Kinders van die wind”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Op die pad na Nooitgedacht” en “As jy my kon volg”, het die album snitte soos “Pretoria”, “Jantjie van die berge” en “Najaarsdroom” bevat. Feitlik elke snit, waaronder die titelsnit, het ’n treffer geword. Dit was duidelik dat Koos nie bang was om oor “moeilike” kwessies soos depressie, eensaamheid en verlange na Suid-Afrika te skryf nie. In 1981 het sy tweede album, As almal ver is, verskyn. In die eerste snit, “Molberge-herinneringe aan Springs”, met die mooi alliterasie, “Al vreet die vrees die vrede”, het hy van sy herinneringe aan sy kinderjare gesing. Een van die aangrypendste liedjies op hierdie album was “Groet sonder woorde”, wat die hartseer rondom die einde van ’n vriendskap of verhouding baie goed verwoord het. Hy het daarby ook ’n liedjie aan elk van sy drie dogters opgedra.

Die laaste album wat in sy leeftyd uitgereik is, was Herbergier, wat in 1982 vrygestel is. Weer eens was Koos nie bang om oor moeilike onderwerpe te skryf nie. Só het hy byvoorbeeld die stryd teen alkoholisme in “Koue-vuur” verwoord en in “Hier’s ons almal tesaam” het hy standpunt ingeneem teen die oppervlakkige gesellige samesyn. Die eerste snit, “Skimme”, was ’n hoogtepunt waarin hy ’n lae noot gesing het waarby baie min basstemme sou kon kom. Hy het diegene wat sy musiek as neerdrukkend en introspektief beskryf het, op die beste moontlike manier geantwoord met “Nes ek wil”.

Die noodlot vra nie of ’n komponis liedjies wat hy geskryf het, opgeneem het nie. Daarom is daar, sover bekend, geen opnames beskikbaar van twee van Koos se bekendste komposisies deur Koos self nie. Koos het met “Gebed” sy diepe afhanklikheid van God verwoord; ongelukkig kon hy dit nooit self opneem nie, maar Jannie du Toit en Piet Smit het sukses met hul opnames daarvan behaal. Seker sy een komposisie wat, naas “Kinders van die wind”, die grootste byval onder die Suid-Afrikaanse publiek gevind het, was “Somerkersfees” en toe die Liedboek van die Kerk in 2001 in gebruik geneem is, is hierdie lied, met ’n derde vers deur Jannie du Toit, ingesluit. Daar is al ’n paar koorverwerkings hiervan uitgereik, onder meer deur prof. Albert Troskie, wat deur kore landwyd gesing word.

Op 15 Januarie 1984 was Koos op pad na Nick Taylor om aan sy vierde album te werk, toe sy motor die pad by ’n laagwaterbrug naby Knoppieslaagte byster geraak het. Kort daarna het kunstenaars soos Jannie du Toit, Nick Taylor, Lucas Maree en Coenie de Villiers saamgespan om die album Koos se plaat op te neem. Dit het liedjies wat Koos geskryf het, maar nooit self opgeneem het nie, soos “Splinterruit”, “Stemme in die more”, “Edelwyn”, “Onder die suiderkruis” en “Om deur te breek”, ingesluit. Jannie en Lucas het “Gebed” vir hierdie album opgeneem. In 1996 is Koos se vierde album, Die vierde horison, waaraan Koos ten tyde van sy dood gewerk het, eindelik uitgereik. Onder die snitte op hierdie album was “Vier horisonne”, “Splinterruit”, “Middernagtrein” en “Nagkonsert”. Een van die mees aangrypende snitte op hierdie album was “Woorde”, waarin hy beswaar gemaak het teen die woorde wat mense mekaar toewens sonder dat hulle dit regtig bedoel. Twee bundels van sy gedigte, Om jou verlaas te groet en Skink nog ’n uur in my glas: nagelate verse, is die jaar na sy dood uitgereik. In 2004 is nog ’n versamelbundel, Erfdeel, wat ook ’n aantal van sy ongepubliseerde tekste bevat het, uitgereik.

Deur die jare het baie kunstenaars op verskillende maniere hulde aan Koos gebring. Sy dogter Karla het ’n sangeres in eie reg geword, en op haar opname van “As jy my kon volg”, is haar pa se stem gebruik sodat dit moes klink asof hulle dit as ’n duet gesing het. Johannes Kerkorrel, Theuns Jordaan en Piet Smit was onder die kunstenaars wat huldeblykalbums uitgereik het, terwyl Jannie du Toit en Mathys Roets vertonings van sy musiek, waarin hulle as kunstenaars opgetree het, saamgestel het. In 2013 is die versamelalbum Volledig uitgereik; hierdie album het sy naam gestand gedoen deurdat dit elke snit van sy vier albums bevat het, tesame met Jannie du Toit en Lucas Maree se opname van “Gebed”.

Onder die eerbewyse wat hy, tydens sy leeftyd en postuum, ontvang het, was ’n oorkonde van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) in 1983, ’n benoeming vir die Sarie-toekenning as beste Afrikaanse album vir As almal ver is en ’n goueplaattoekenning vir “Kinders van die wind”” . Hy was die eerste Afrikaanse liedjieskrywer wat hierdie toekenning gewen het. In 2004 is hy tydens Huisgenoot Skouspel postuum vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. In 1996 het Jannie du Toit ’n Nederlandse vertaling van “Kinders van die wind”, getiteld “Kinderen van de wind”, op sy album Volgende winter ingesluit en sedertdien is ’n album deur Nederlandse kunstenaars met Nederlandse vertalings van sy liedjies uitgereik.

Hy was ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk in Wierdapark en hy is uit hierdie kerk begrawe.[2]

Sources

  1. You Tube Kinders van die wind Research and entered March 26, 2024 by Susanna Hendrina Elisa de Bruyn
  2. FAK BIOGRAFIE GESKRYF DEUR Daantjie Badenhorst KOOS DOEP BIOGRAFIE Added March 27, 2024 by Susanna Hendrina Elisa de Bruyn




Is Jacobus Johannes your relative? Please don't go away!
 star icon Login to collaborate or comment, or
 star icon contact private message the profile manager, or
 star icon ask our community of genealogists a question.
Sponsored Search by Ancestry.com

DNA
No known carriers of Jacobus Johannes's ancestors' DNA have taken a DNA test. Have you taken a test? If so, login to add it. If not, see our friends at Ancestry DNA.


Comments

Leave a message for others who see this profile.
There are no comments yet.
Login to post a comment.

D  >  du Plessis  >  Jacobus Johannes du Plessis

Categories: Singer-Songwriters | Musicians | Singers | Afrikaans Singers